The following story about Trooper Cronje was researched and written by myself and published in the book “Kraaifontein Stories Boek 1” by Karen Cronjé Carstens in 2015. The copyright belongs to the latter and is published here with her permission.
Willem Johannes Cronje is op 2 Augustus 1948 in sy ouerhuis te Parow gebore, waarna hulle in 1963 na Kraaifontein verhuis het. Sy ouers was oorspronklik van Ruyterwacht. Hy is na sy vader vernoem, maar sy familie en vriende het hom Willie of soms Wimpie genoem. Hy het skoolgegaan te Laerskool Kraaifontein, deesdae Simonsberg, en Hoërskool Eben Dönges. Sy moeder se naam is Trudie Swart en sy woon steeds in hul huis in Conroystraat. Hy was die derde jongste van ses kinders, te wete vyf broers en een suster. Hulle is, van die oudste tot die jongste, Jeremiah (Boetie), Fanie, Gert, Willie, Johanna en Piet (Petie). Laasgenoemde is in 2008 aan hartversaking oorlede en Gert in 2012 aan nierversaking.
Willie en sy broers, Jeremiah en Gert, was lief vir musiek en het ‘n orkes gehad wat onder andere by verjaarsdagpartytjies opgetree het. Hulle het die kitaar, melodika en mondfluitjie bespeeel. Abraham (Abé) de Wit, wat later Willie se swaer sou word, was ook per geleentheid deel van die orkes.
Willie het nadat hy Standerd 8 geslaag het, drie maande basiese militêre opleiding by 1 Spesiale Diensbataljon van die Pantserkorps te Tempe in Bloemfontein ondergaan. Ná sy uitklaring uit die Weermag, het hy opleiding by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë in Soutrivier ondergaan en in die ambag van passer-en-draaier gekwalifiseer.
Dit blyk dan dat hy tydens ‘n maandkamp op die destydse Suidwes-Afrika se grens gesneuwel het. Willie het op daardie stadium die rang van kavalleris in die Pantserkorps beklee en was verbonde aan ‘n burgermag regiment, Regiment Oranjerivier, kortweg bekend as “R.O.R.”. Hy is op 5 Februarie 1976 op die ouderdom van 27 jaar noodlottig gewond in die omgewing van Chiete in Suid-Angola. Volgens sy bevelvoerder van daardie tyd, Kolonel A.P. Stemmet, wat die rang van kaptein beklee het tydens die voorval, het hulle groep in ‘n tydelike basis vertoef en hulle was ‘n hele ruk sonder vars rantsoene. Toe die rantsoene uiteindelik aangevul was, was ‘n braai gereël en het die chefs die manskappe se “steaks” sommer so van die kole af aan hulle bedien. Natuurlik het ‘n lang ry gevorm en dit was toe dat die vyand met ‘n Russiese RPG-7 vuurpyl op hulle gevuur het. Willie en ‘n makker, Sappeur Jonathan Aschman van Cyrildene wat aan 2 Veldgenieregiment verbonde was, was deur die vuurpyl se stertvinne getref en het op die toneel gesterf. Dit was volgens Kolonel Stemmet, sover bekend die eerste keer dat ‘n RPG-7, ‘n 85 mm vuurpyl wat vanaf ‘n soldaat se skouer gevuur word en wat eintlik ‘n anti-tenk wapen is, teen troepe aangewend was.
Willie se begrafnisdiens het op 13 Februarie 1976 met volle militêre eerbewys in die Nuwe Apostoliese Kerk in Bellville plaasgevind en hy is in die Stikland-begraafplaas in Bellville ter ruste gelê. Hy was tydens sy afsterwe getroud met Katie Magrietha (Tokkie) de Wit, ‘n predikantsdogter wat in Sewende Laan, Kraaifontein grootgeword het. Haar vader, Jan, was destyds ‘n priester in die Ou Apostoliese Kerk in Sesde Laan. Hulle is op 20 Februarie 1973 getroud en hulle het twee seuns gehad, te wete Robert Marius en Willem Johannes, wat onderskeidelik in 1973 en 1975 gebore is. Hulle het tydens sy afsterwe in Hoffstraat gewoon. Tokkie was ‘n verpleegster van beroep, wat haar opleiding gedurende 1970 te Saint Joseph’s Hospitaal in Pinelands begin het en afgetree het by die Vincent Palotti Hospitaal, ook in Pinelands. Tokkie het nooit weer getrou nie en het hul seuns alleen grootgemaak. Sy is deesdae afgetree en woon in Parow.
Die Weermag se verteenwoordiger het tydens Willie se begrafnis ‘n bronsbeeldjie van ‘n stormende soldaat aan Tokkie oorhandig. Dit is “37" genommer, wat beteken dat hy die sewe-en-dertigste ongeval van die Suid-Wes Afrika/Angola bosoorlog was. Dit het ook ‘n metaalplaatjie met sy geboorte- en sterftedatum daarop. Die Pro Patria-medalje vir grensdiens in die destydse Suidwes-Afrika is op 24 September 1976 postuum aan hom toegeken te Pretoria. Sy weduwee en moeder was per Flossie (bynaam vir ‘n militêre troepevliegtuig) vanaf Ysterplaat Lugmagbasis opgevlieg, waar die destydse hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, generaal Magnus Malan, dit tydens ‘n militêre seremonie aan hulle oorhandig het. Die medalje het intussen verlore geraak, maar die toekenningsertifikaat het behoue gebly. Willie se grafsteen is ‘n eenvoudige wit marmersteen in die vorm van ‘n oop Bybel met, benewens die gewone huldeblyk, die inskripsie “2 Tim. 4-7" daarop.
Positiewe uitvloeisels van die navorsing vir hierdie storie is dat daar met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag kontak gemaak is om ‘n amptelike weermaggrafsteen by die bestaande siviele een te voeg. Daar word ook via die Suid-Afrikaanse Legioen van Militêre Veterane aansoek gedoen vir die heruitreiking van Willie se verlore Pro Patria-medalje, asook vir die toekenning die Cunene gespe vir operasies buite die grense van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika gedurende 1975 -1976.
Hy was een van 49 wat gesterf het...
Traffic came to a halt as the gun carriage drawn by a military vehicle and followed by the funeral procession proceeded to Bellville Cemetery where Private Cronje was buried with full military honours.
A guard of honour of the 10th Anti-Aircraft Regiment followed the gun carriage and presented arms as the coffin was lowered into the grave.
Troops, his family and friends stood silently as Pastor Laubscher paid tribube to Private Cronje.
"He was selfless and a man who was a keen member of the church and a good father to his family. His last words before he left for the operational area were 'please do not worry about me’," he said.