on 17 August 2026 · via
sourceDr. Louis Bothma, skrywer wat as lid van 32 Bataljon aan die Grensoorlog deelgeneem het, beskryf hoe die geskiedkundige herontmoeting tussen sappeur Johan van der Mescht en sy Swapo-ontvoerders by die watergat by Elundu aan die grens tussen Namibia en Angola gebeur het. Woensdag 2 Desember 2009. Oos-Ovamboland. Terug by die berugte watergat knap duskant die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se Elundu-basis. Hier waar sappeur Johan van der Mescht kort voor dagbreek op Sondag 19 Februarie 1978 deur Swapo gevang en oor die grens na Angola geneem is. Skokgolwe het deur die SAW getrek. Johan, wat byna vier en 'n half jaar van sy lewe in die gevreesde Sao Paulo-tronk in Luanda geslyt het, is allesbehalwe 'n held. Vra maar die mense, dan hoor jy: "Hy het geslaap toe hy die watergat moes oppas; hy het na Swapo toe oorgeloop; hy is 'n verraaier; 'n slegte troep..." 'n Mistroostige suidewindjie rol by die watergat wit stowwe die bosse in toe die betrokkenes in die drama uit die bakkies klim. Aan die een kant Johan, sy vrou, Cheryl, en hul twee dogters, Chantal en Nadia. Teenoor hulle, mnre. Danger Ashipla en Kamati ka Elio, die manne wat Johan gevang het. Daardie jare "terroriste"; vandag Swapo-guerrillas. 'n Kortkop agter hulle volg Danger se seun Stephen, ons tolk wat vlot Afrikaans praat. Een van Danger se 18 kinders. "Dit is nie meer dieselfde nie," se Johan agter sy donkerbril, toe sy blou oe na 31 jaar, 9 maande en 13 dae, weer oor Elundu se watergat gly. Maar Johan, nou 55 jaar oud, is ook nie meer dieselfde nie. Cheryl en die dogters maal senuweeagtig in die ronde. Weet nie mooi waar om te kyk nie. Is hierdie dan nou die plek waar alles begin het? 'n Lang diep gat langs 'n stowwerige paadjie iewers tussen nerens in die bosse... 'n Rukkie later is die geselskappie aan die suidekant van die watergat bymekaar. Min of meer op die plek waar die tent gestaan het. Danger-hulle het van die westekant af op die handjievol Suid-Afrikaanse soldate afgesluip. Die oggend 04:00, pas nadat die maan ondergegaan het. "Ons kon hulle hoor snork," vertel Danger. Hy het met 'n stok teen die kolf van sy AK47 getik, die teken dat sy manne gereed moes maak vir die aanval. Toe het hy 'n handgranaat na die tent geslinger. Dit was chaos. Kamati ka Elio onthou nog hoe Danger geskreeu het: "Forward! Forward! Capture! Capture!" "Johanna van der Mescht" (soos Kamati Johan uit onkunde noem) het tussen die